SPU se Opvoedkunde Fakulteit vestig verhoudings met die !Xun en die Khwe-gemeenskappe in Platfontein

Besoek aan Platfontein lê die basis vir samewerking op onderwysgebied met ’n fokus op vroeëkinderontwikkeling- en opvoeding (VKO).

Die Fakulteit Opvoedkunde van die Sol Plaatje Universiteit, het op 24 Julie 2025 die !Xun en die Khwe-gemeenskappe in Platfontein, buite Kimberley, besoek.  Die besoek, gelei deur die dekaan, prof. Boitumelo Diale, prof. Dipane Hlalele, dr. Tony Mpisi en dr. Kevin Teise, vorm deel van die fakulteit se Sentrum vir die Bevordering van Landelike en Inklusiewe Onderwysnavorsing se toewyding aan landelike ontwikkeling.    

Die afvaardiging het by die !Xunkhwesa Gekombineerde Skool met hoofman Antonio Saboa van die !Xun-gemeenskap en hoofman John Matamu van die Khwe-gemeenskap vergader, waar hulle hartlik ontvang is deur die skoolhoof, me. Mumtaaz Newman.  Die vergadering het gefokus op die bou van samewerkingsverhoudings met die twee gemeenskappe, die werk van die fakulteit en die identifisering van die gemeenskap se onderwysbehoeftes.

Die hoofmanne het armoede, jeugwerkloosheid, en jeugswangerskappe geïdentifiseer as dringende gemeenskapsuitdagings.  Albei leiers het ook die transformatiewe rol van onderwys in die skep van ’n beter toekoms vir hul volgelinge, beklemtoon. 

Sleutelgeleenthede vir samewerking is geïdentifiseer.  Dit sluit in Volwasse Basiese Onderwys en Opleiding, vennootskappe met die plaaslike gemeenskapskollege, ondersteuning met derdetaalonderrig aan onderwysers, sowel as samewerking met die Noord-Kaapse Department van Onderwys.  Vroeëkinderontwikkeling- en opvoeding (VKO) is geïdentifiseer as topprioriteit, veral die opleiding van praktisyns vir die nuutgeboude VKO-sentrum wat tans in onbruik staan as gevolg van ’n gebrek aan vaardighede onder die praktisyns. 

Die fakulteit sal nou ’n aksieplan ontwikkel in konsultasie met die hoofmanne, die plaaslike gemeenskappe, en ander aandeelhouers.  Die doel hiervan is om met uitvoerbare ingrypings vorendag te kom wat nie net toegang tot onderwys sal gee nie, maar ook die gemeenskap sal ophef.

Die besoek is afgesluit met ‘n  besoek aan die nuutgeboude VKO-sentrum en die onderneming om die gemeenskap weer te besoek.  Die afvaardiging het hul waardering uitgespreek teenoor albei hoofmanne wat die vergadering bygewoon het, hul persoonlike assistente vir die vertaling van die gesprekke in !Xuntali en Khwedam asook teenoor me. Newman wat die vergadering gefasiliteer het. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *